fbpx

Bo-Karoo Opleiding

Wie is Bo-Karoo Opleiding?

Die keuse van ’n beroep is een van dié belangrikste besluite in ’n persoon se lewe. Indien jy die regte beroep kies verdien jy nie net ’n salaris nie, maar beleef jy beroepsbevrediging in die ware sin van die woord. Vir diegene wat verder wil studeer, bied Bo-Karoo Opleiding, ’n filiaal van die Solidariteit Beweging, in samewerking met Future & Overall Deliveries (F&O) die ideale geleentheid om ‘n nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ’n goed gestruktureerde, landelike omgewing te verwerf. Hier verwerf studente nie net ’n kwalifikasie nie, hulle word gevorm om as roepingsgedrewe volwassenes die arbeidsmark te betree. Stewig gegrond in hulle geloof en kultuur op pad na ’n nuwe môre.

Dit is algemeen bekend dat daar ʼn groot tekort aan gekwalifiseerde, goed opgeleide ambagslui nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd is.  Net in Orania self is daar ʼn geweldige tekort aan vakmanne.  Volgens Orania se 2018-jaarverslag is daar meer as 100 nuwe aansoeke vir die oprigting van huise en sakepersele ingedien.  Die geskatte waarde van slegs hierdie eiendomme beloop meer as R52 miljoen.

As daar in berekening gebring word dat Orania die afgelope aantal jare konstant met meer as 9% gegroei het, besef ʼn mens watter beroepsmoontlikhede daar vir afgestudeerde studente op Orania wag.  Kom word deel van ʼn florerende gemeenskap waar ons saam bou aan ʼn stad met meer as 10 000 inwoners in 2030!