fbpx

Bo-Karoo Opleiding

Boerderybestuur​

Hierdie nasionale diploma sal studente in staat stel om boerderybestuursfunksies en -produksiebesluite te verstaan, hoe om hulpbronne te benut, finansies te bestuur en landboubates te evalueer. Hulle word ook toegerus met praktiese kennis en vaardighede rakende plant- en veeproduksie asook basiese instandhouding in die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing.

Kwalifikasie

Nasionale Diploma (N4-N6) in Boerderybestuur en Meganisasie

Toelatingsvereistes

Graad 12-kwalifikasie/ NSS/ N3-sertifikaat

Graad 12 Wiskunde 40% / Wiskundige Geletterdheid 50%/ Tegniese Wiskunde 40%

Modules

Finansiële bestuur N4, N5, N6

In hierdie leerarea leer jy, as voornemende boer, die basiese rekeningkundige beginsels wat jou in staat stel om begrotings op te stel, inligtingstelsels te ontleed en finansiële state, balansstate en inkomstestate te interpreteer.

Rekenaarpraktyke N4, N5, N6

Hierdie leerarea fokus op die basiese rekenaarvaardighede soos van toepassing in Microsoft Word, Excel, Access en Power Point.

Boerderytegnologie en -meganisasie N4, N5, N6

Hierdie leerarea bemagtig die student met vaardighede om basiese instandhouding op die plaas te doen. Dit sluit voertuigonderhoud, basiese sweistegnieke, geboue- en elektriese installasies, sowel as gesondheids- en veiligheidsprosedures in.

Boerderybestuur N4, N5, N6

Die funksies en verantwoordelikhede van alle rolspelers in die landbou, asook omgewingsfaktore wat landbou beïnvloed, word in dié leerarea behandel. Die opleiding fokus op die boer as entrepreneur en sluit die beplanning van die boerdery en die boedel, asook ‘n oorsig van die belangrikste aspekte van versekering wat op die boer van toepassing is, in.

Plant- en VeeProduksie  N4, N5, N6

Hierdie module was vantevore by die kurrikulum ingesluit in die vorm van addisionele nie-kredietdraende kursusse. Die kursusse is egter nou by die sillabus ingesluit en word as ‘n volwaardige N4, N5 en N6 aangebied. Daar word gekyk na grond- en plantkunde en lewende hawe, insluitend pluimvee-, skaap- en bokproduksie en beeste, om maar ‘n paar te noem.

Opleidingsmodel

Hierdie kwalifikasie is hoofsaaklik daarop gemik om aan die leerder tegniese, teoretiese, praktiese en werkplekkennis en -vaardighede te gee wat in dié beroepsarea vereis word. Die ontwerp van hierdie kwalifikasie is sodanig dat dit leerders in staat stel om progressief die Nasionale N-diploma te verwerf sodra die vereiste praktiese werkskomponent voltooi is. Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.

Opleiding geskied aaneenlopend in drie fases, naamlik teoretiese, praktiese werkswinkel- en werkgebaseerde opleiding. Die teoretiese en praktiese opleiding geskied oor ’n tydperk van twee jaar en word in Orania afgelê. Studente is verplig om alle kontaksessies, waartydens die lektor die voorgeskrewe teorie met hulle sal behandel, by te woon. Klasse neem daagliks tussen 08:00 en 09:00 in aanvang en kan met inbegrip van pouses en middagete tot 16:30 duur. Nadat die student gedurende hierdie tydperk al sy/haar N4-, N5- en N6-modules se eksamens suksesvol voltooi het, begin die werkgebaseerde opleiding. Laasgenoemde werkgebaseerde blok strek oor 12 maande.

Hierna dien die student hul volledige portefeulje van bewyse in om die diploma te verwerf.

Potensiële werksgeleenthede ná voltooiing van die kursus

Boer
Plaasbestuurder
Plaastoesighouer
Landbou bemarker
Landbouproduk inspekteur
Landbouprodukteverteenwoordiger
Landbou voorligter

Studiekoste vir 2024

Die registrasiefooi vir eerstejaars vir die jaar is R2 500.

Die totale studiekoste vir eerstejaars vir die jaar is R52 000.

Die totale studiekoste vir tweedejaars vir die jaar is R52 000.

Die totale studiekoste vir derdejaars vir die jaar is R5 600.

Registrasie en verblyfreg

Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.

Toelatingsvereistes

Registrasiefooi

Toelatingstoets

Verblyfreg tot Orania