fbpx

Bo-Karoo Opleiding

Studentelewe

‘n Gesonde studentelewe is die kern, die hartklop van enige opleidingsinstansie. By Bo-Karoo Opleiding is studente nie net ‘n getal nie. Opleiding is belangrik en opvoeding loop hand aan hand met akademie. Daar word gesê dat dit ‘n gemeenskap vat om ‘n kind groot te maak en by BKO is dit presies so.

Ons kampus het nie heinings nie, dit is deel van die dorp en ons studente is deel van die Orania gemeenskap.

Ons studentelewe rus op 5 pilare naamlik:

Koshuislewe

Sport

Kultuur

Leierskap & diensbaarheid

Studente ondersteuning

Studenteverblyf

Dit is hier waar hul verantwoordelikheid en bedagsaamheid leer. Hiér kan hulle ou en nuwe tradisies uitleef. Ons koshuise is waar samehorigheid gekweek word. Gesonde kompetisie is ook goed, daarom is daar 'n koshuistrofee wat jaarliks aan die mees betrokke koshuis oorhandig word.

Heldehuis

Vir die studente wat gebruik maak van privaat verblyf maar steeds betrokke wil wees en deel wil wees van ons gesonde studentelewe kan studente by hierdie daghuis inskakel. Die daghuis beskik oor sy eie huiskomitee en klubhuis. Die huiskomitee koördineer studente om ‘n lekker studentelewe te skep weg van die huis.

Sport

In samewerking met die Gemsbok Sportinstituut in die dorp sorg ons dat die studente die geleentheid kry om hul sport talente uit te leef om verder te ontwikkel. In 2022 is die rugby- en netbalklub, Bo-Karoo Gemsbokke, gestig. Die netbalspan het in hul stigtingsjaar reeds ‘n vierde plek behaal in hul streek liga en vyf van ons spelers is gekies vir die streek span. Ons glo dat dit belangrik is om vir ons spanne soveel as moontlik speeltyd en blootstelling te bied. In 2023 neem ons weer deel aan die liga asook verskeie toernooie en toere wat die jaarlikse Sport en Pot toer insluit aan die begin van die jaar. Hierdie spelers het dan ook gratis toegang tot die Gemsbok gimnasium en spesiale pryse word vir die res van die studente aangebied. Studente kan ook gratis aan die aksiesport deelneem wat deur die Instituut aangebied word. Soos die behoefte ontstaan sal ander sportsoorte ook verder ontwikkel word.

Ons glo ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.

Kultuur

Die derde pilaar is kultuur en omdat ons in ‘n Afrikaner kultuurdorp woon is dit sommer maklik om dit vrylik uit te leef. Ons studente bou nog vlot vir die jaarlikse karnaval. Aan die begin van die jaar word die eerstejaars aan die dorp bekendgestel deur ‘n eerstejaarskonsert waarmee die Orania Kunsteraad ons bystaan. Dit is altyd ‘n groot hoogtepunt.

Ons studente herdenk ook saam met die res van Orania sekere vakansiedae wat deel is van ons erfenis soos onder andere Majubadag, Stigtingsdag, Bittereinderdag, Heldedag en Geloftedag. Deur die loop van die jaar is daar ook gedig-, debat en talentaande waaraan die studente deelneem.

As jy ‘n kultuurdier is, is BKO die regte plek vir jou!

Leierskap & diensbaarheid

By BKO is daar hoofsaaklik drie hoof studente leierskapstrukture waar studente hul potensiaal as leier kan ontwikkel en hul karakter vorm naamlik:

Die studenteraad

Die huiskomitee

Die komiteeforum

Die studenteraad (SR) is die direkte lyn tussen die studentesake kantoor en die algemene student. Hulle sorg dat studente se stemme gehoor word wanneer dit kom by kwessies wat hulle raak. Die SR is ook verantwoordelik om die studentesake kantoor by te staan met die uitrol van gesonde studente aktiwiteite.

Elke koshuis beskik oor ‘n huiskomitee (HK) wat die studente in die koshuis koördineer ten opsigte van koshuiskultuur, netheid, dissipline en gesonde koshuis tradisies en aktiwiteite. Vir die studente wat ‘n HK posisie bekleë is dit ‘n voorreg en leerskool om diensbaar te wees vir hul mede studente.

Die komiteeforum werk nou saam met die studentesake kantoor, studenteraad en rolspelers in die dorp om gesonde studente aktiwiteite en projekte van stapel te stuur. Hulle kry insette van BKO sowel as rolspelers in die dorp wat betrokke is by veral sport en kultuur.

Studente ondersteuning

Hier word deurlopend gekyk na die studente se welstand en werksgereedheid. Met behulp van Orania helpmekaar word studente gehelp met verskeie uitdagings. BKO werk ook saam met Orania Werk en Welstand om studente by te staan met enige uitdagings wat hul in die werksplek mag ervaar.

By BKO sorg ons dat studente ook ‘n kwalifikasie kry in menswees, leierskap en die lewe.