
Modules
Bo-Karoo Opleiding bied ’n uitstekende kursus in Tuisversorging aan vir diegene wat ’n verskil in ander se lewens wil maak. Die kursus is vanaf Augustus 2022 by die QCTO geakkrediteer en staan bekend as Occupational Certificate: Home-Based Personal Care (SAQA 104792). Die Tuisversorgingkwalifikasie is ’n jaar lange kursus wat in Orania aangebied word.
KENNISMODULES
Fundamentele beginsels van tuisversorging: etiese beginsels en waardes, kommunikasietegnieke.
Gemeenskapsgesondheidsorg en maatskaplike ondersteuning: anatomie en fisiologie, samestelling en toepassing van sorgplanne, operasionele beginsels van gesondheidsorg en ‘n sosiale ondersteuningstelsel, konsepte en beginsels van effektiewe administrasie.
Rehabilitasiesorg: versorging- en ondersteuningstelsel vir gestremdes, hantering van komplikasies, verwysingsnetwerke, huishoudelike probleme.
Terapeutiese sorg: hantering van fisiese en emosionele ongesteldhede, basiese psigiese ongesteldhede, nie-oordraagbare siektes, oordraagbare siektes, algemene siektetoestande.
Ondersteunende en palliatiewe sorg: bejaardesorg, hantering van terminale siektes en bevordering van lewenskwaliteit, beraming en hantering van pyn.
Praktiese vaardigheidsmodules
Ondersoek en assessering van pasiënte, fisiese versorging soos pynbeheer, posisionering, mobilisasie, eerstehulp, ondersteuning tydens psigiese gesondheidsprobleme, versorging van kwesbare en bejaarde persone, uitvoering van basiese ondersoeke en toetse, hulpverlening met wondversorging.
Tuisbesoeke, bemagtiging van pasiënte en families deur middel van onderrig in fisiese versorging, pasiëntvoorligting, deelname aan aktiwiteite en verpligtinge van die gesondheidsorgspan.
Werkservaringmodules
Werkservaring word opgedoen in Orania se plaaslike ouetehuis en kliniek, asook tydens tuisbesoeke in die gemeenskap. Dit sluit die versorging van bejaardes, kwesbares, babas en kleuters, en gestremdes in.
Werk word onder die toesig van geregistreerde maatskaplike werkers en geregistreerde verpleegkundiges gedoen.
Algemene inligting rakende die kwalifikasie
Die kwalifikasie in Tuisversorging bestaan uit drie komponente: akademiese modules, praktiese modules en werkgebaseerde modules. Die akademiese komponent word deur ’n ervare, geregistreerde verpleegkundige aangebied in ’n moderne en toegeruste lesinglokaal. Praktiese vaardighede word ingeoefen in ‘n simulasielaboratorium en verder verfyn deur middel van werkservaring. Die werkservaring word opgedoen in die plaaslike ouetehuis, kliniek, dagsorgsentrums en tydens tuisbesoeke in die gemeenskap. Die leerders werk met bejaardes, kwesbares, babas en kleuters, en gestremdes in Orania.
Vir wie is hierdie kursus?
Die kursus in Tuisversorging is ideaal vir hardwerkende leerders met goeie kommunikasievaardighede, hoë morele waardes en ’n sterk roeping om ander mense te help. ’n Belangstelling in gesondheidswetenskappe en versorging is aan te beveel. Universiteits- of hoërsertifikaatvrystelling is nie ‘n voorwaarde vir toelating nie en Lewenswetenskap as skoolvak is ook nie ‘n vereiste nie.
Hoekom moet jy Tuisversorging oorweeg?
Tuisversorging is ’n beroep wat hoog in aanvraag is. ’n Kwalifikasie in Tuisversorging bied jou plaaslike en internasionale werksgeleenthede in hospitale, ouetehuise, aftreeoorde, tuisversorgingsagentskappe, dagsorgsentrums; jy kan ook werk kry as ‘n kinderoppasser (au pair). ’n Gekwalifiseerde tuisversorger kan ook kies om privaat versorging onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige te doen. Dié kwalifikasie sal leerders verryk ongeag of hulle ’n beroep as tuisversorger wil volg, of nie. Au pair-werk is ideaal en ons beveel dit graag aan as ’n diensjaar óf as ’n oorbruggingsjaar vir diegene wat pas hul skoolopleiding voltooi het, maar nog nie seker is wat hulle wil doen nie.
Waardetoevoegings-program
Addisionele kursusse voeg waarde toe tot die basiese kursus. ‘n Kursus van Dementia SA word byvoorbeeld by die kurrikulum ingesluit. Addisioneel tot die beroepskwalifikasie word die module, Child Health N4 - ’n module wat deel vorm van die Educare-kwalifikasie – ook aangebied. Noodhulp op intreevlak vorm ook deel van Tuisversorging.
