fbpx

Bo-Karoo Opleiding

Tuisversorging

Bo-Karoo Opleiding bied ’n uitstekende kursus in Tuisversorging aan vir diegene wat ’n verskil in ander se lewens wil maak. Die kursus is vanaf Augustus 2022 by die QCTO geakkrediteer en staan bekend as Occupational Certificate: Home-Based Personal Care (SAQA 104792). Die Tuisversorgingkwalifikasie is ’n jaar lange kursus wat in Orania aangebied word.

Kwalifikasie

Home Based Personal Care Worker NQF Level 3 SAQA ID 104792

Modules

KENNISMODULES

Fundamentele beginsels van tuisversorging: etiese beginsels en waardes, kommunikasietegnieke.

Gemeenskapsgesondheidsorg en maatskaplike ondersteuning: anatomie en fisiologie, samestelling en toepassing van sorgplanne, operasionele beginsels van gesondheidsorg en ‘n sosiale ondersteuningstelsel, konsepte en beginsels van effektiewe administrasie.

Rehabilitasiesorg: versorging- en ondersteuningstelsel vir gestremdes, hantering van komplikasies, verwysingsnetwerke, huishoudelike probleme.

Terapeutiese sorg: hantering van fisiese en emosionele ongesteldhede, basiese psigiese ongesteldhede, nie-oordraagbare siektes, oordraagbare siektes, algemene siektetoestande.

Ondersteunende en palliatiewe sorg: bejaardesorg, hantering van terminale siektes en bevordering van lewenskwaliteit, beraming en hantering van pyn.

Praktiese vaardigheidsmodules

Ondersoek en assessering van pasiënte, fisiese versorging soos pynbeheer, posisionering, mobilisasie, eerstehulp, ondersteuning tydens psigiese gesondheidsprobleme, versorging van kwesbare en bejaarde persone, uitvoering van basiese ondersoeke en toetse, hulpverlening met wondversorging.

Tuisbesoeke, bemagtiging van pasiënte en families deur middel van onderrig in fisiese versorging, pasiëntvoorligting, deelname aan aktiwiteite en verpligtinge van die gesondheidsorgspan.

Werkservaringmodules

Werkservaring word opgedoen in Orania se plaaslike ouetehuis en dagsorgsentrum, asook tydens tuisbesoeke in die gemeenskap. Dit sluit die versorging van bejaardes, kwesbares, babas en kleuters, en gestremdes in.

Werk word onder die toesig van geregistreerde maatskaplike werkers en geregistreerde verpleegkundiges gedoen.

Bykomende modules/kursusse

Addisionele kursusse voeg waarde toe tot die basiese kursus. ‘n Kursus van Dementia SA word byvoorbeeld by die kurrikulum ingesluit

Addisioneel tot die beroepskwalifikasie word die module, Child Health N4 - ’n module wat deel vorm van die Educare-kwalifikasie – ook aangebied.

Intreevlak noodhulp

Opleidingsmodel

Die doel van hierdie kwalifikasie is om 'n student voor te berei om as 'n tuisgebaseerde versorger te funksioneer. Tuisgebaseerde versorgers verskaf sorg en ondersteuning - onder toesig - aan pasiënte en hul onmiddellike gesins-/huishoudingslede in die huis en in toepaslike gemeenskapsgebaseerde instellings. Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.

Die kwalifikasie in Tuisversorging bestaan uit drie komponente: akademiese modules, praktiese modules en werkgebaseerde modules. Die akademiese komponent word deur ’n ervare, geregistreerde verpleegkundige aangebied in ’n moderne en toegeruste lesinglokaal. Praktiese vaardighede word ingeoefen in ‘n simulasielaboratorium en verder verfyn deur middel van werkservaring. Die praktiese modules word in diens van die gemeenskap aangewend. Studente is verplig om alle kontaksessies, waartydens die lektor die voorgeskrewe teorie met hulle sal behandel, by te woon. Klasse neem daagliks tussen 08:00 en 09:00 in aanvang en kan met inbegrip van pouses en middagete tot 16:30 duur. Die werkgebaseerde opleiding geskied onder toesig van ervare personeel en kan in Orania of elders (by goedgekeurde instansies) verrig word.

Daar sal van alle studente verwag word om op ʼn deurlopende basis ʼn portefeulje van die werk wat hulle verrig het, by te hou. Hierdie portefeulje sal by die SETA ingehandig word as bewys dat die voorgeskrewe leerinhoud bemeester is. Nadat 'n student die eksterne eksamen geslaag het, registreer hulle by die departement van maatskaplike ontwikkeling as 'n tuisversorger

Toelatingsvereistes

Graad 12-kwalifikasie

Vir wie is hierdie kursus?

Die kursus in Tuisversorging is ideaal vir hardwerkende leerders met goeie kommunikasievaardighede, hoë morele waardes en ’n sterk roeping om ander mense te help. ’n Belangstelling in gesondheidswetenskappe en versorging is aan te beveel. Universiteits- of hoërsertifikaatvrystelling sowel as Lewenswetenskappe as skoolvak, is nie ‘n vereiste nie.

Hoekom moet jy Tuisversorging oorweeg?

Tuisversorging is ’n beroep wat hoog in aanvraag is. ’n Kwalifikasie in Tuisversorging bied jou plaaslike en internasionale werksgeleenthede in hospitale, ouetehuise, aftreeoorde, tuisversorgingsagentskappe, dagsorgsentrums; jy kan ook werk kry as ‘n kinderoppasser (au pair). ’n Gekwalifiseerde tuisversorger kan ook kies om privaat versorging onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige te doen.

Dié kwalifikasie sal leerders verryk ongeag of hulle ’n beroep as tuisversorger wil volg, of nie. Au pair-werk is ideaal en ons beveel dit graag aan as ’n diensjaar óf as ’n oorbruggingsjaar vir diegene wat pas hul skoolopleiding voltooi het, maar nog nie seker is wat hulle wil doen nie.

Registrasie en verblyfreg

Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.

Toelatingsvereistes

Registrasiefooi

Toelatingstoets

Verblyfreg tot Orania

Studiekoste vir 2024

Studiekoste vir 2024

Die registrasiefooi vir eerstejaars vir die jaar is R2 500.

Die totale studiekoste vir eerstejaars vir die jaar is R22 790.